Die wolbedryf se waardeketting is ten volle oopgestel, nadat dit as nie-noodsaaklik tydens die vlak 5-inperkingsregulasies van die nasionale inperking geklassifiseer was. Nadat slegs beperkte werksaamhede kon voortgaan, het dit nou saam met die ander landboubedrywe volle toegang tot die waardeketting. So bevestig mnr. Leon de Beer, bestuurder van die Nasionale Wolwerkersvereniging.
“Sover dit die NWK aangaan, kan veilings plaasvind, die woltoetsburo en die makelaars kan aangaan en die hele wolpyplyn is beskikbaar.”
Die volgende maatreels is egter in plek:
- Skeeraktiwiteite en die vervoer van wol na makelaars se pakhuise kan voortgaan, maar moet gepaardgaan met streng gesondheidsprotokolle en die nodige afstandhoudingsmaatreels.
- Alle dienste en persone wat volgens die nuwe maatreels kan voortgaan, moet die relevante, en volledige voltooide permitte he soos uiteengesit in die Staatskoerant.
- Die toets van wol sal kan voortgaan ingevolge die maatreels.
Volgens De Beer heers daar egter steeds onsekerheid rakende adviesdienste en opleiding, “veral waar dit op die plaas plaasvind saam met die risiko’s daaraan verbonde.”
Hy voer aan dat hul optrede gekoppel word aan verantwoordelikheid.
“Ons as bedryf wil seker maak dat ons op die vlakke bly funksioneer waar ons toegelaat word om dit te doen. Die verantwoordelikheid is nou by ons om te voorkom dat die virus versprei en elkeen het ‘n verpligting om dit na te kom.”
Lees meer hier.