Alhoewel geslagsiektes dikwels onder kleinvee voorkom, is daar nog min navorsing oor die behandeling daarvan gedoen. Geslagsiektes is nie beperk tot sekere gebiede of rasse nie en meeste ramme kan dit optel. Die algemeenste is egter Brucella ovis, Brucella melitensis en peestersiekte.
Peestersiekte verwys na ‘n kondisie waar klein blasies op die peester vorm. Dié blasies kan later rooi of bloederig en geswel raak. Volgens Dr. Pieter Botes, veearts, kan die bakterie sluimerend in die ram se geslasgedele bly.
“Hy kan dalk skoon wees ná behandeling, maar sodra hy weer by die ooie kom, kan die siekte weer kop uitsteek.”
Verskillende behandelinge kan egter toegepas word, afhangende van die kudde. Dr Botes voer aan dat wat vir een kudde werk, nie altyd vir die ander een sal werk nie. Die beste benadering is dus voorkoming. Elke ram wat aangekoop word moet klinies ondersoek word voordat hulle by ooie gesit word. Lizaan Cilliers, dieregesondheidstegnikus, beveel ook aan dat ramme eers tussen ‘n paar ou ooie wat geslag gaan word, gesit word. Sodoende kan jy seker maak die ramme is skoon.
Brucella ovis, of bybalontsteking soos dit algemeen bekendstaan, is nog ’n ernstige geslagsiekte wat onder ramme voorkom. Omdat dit nie ’n staatsbeheerde siekte is nie, is dit moeilik om die probleem te reguleer en uit te wis.
Vir die siekte is daar nie duidelike kliniese simptome nie.
“Daar kan wel knoppe in die byballe wees, wat ’n rooi lig is. Omdat die siekte in die testes gelokaliseer is, kan dit deur seminale vloeistof, semen en urine oorgedra word. Dit veroorsaak ook ontsteking in die geslagsdeel, met die gevolg dat die sperma verminder of selfs doodgaan en tot laer vrugbaarheid lei.
“Brucella ovis is hoogs aansteeklik en ramme kan dit oordra as hulle aan mekaar ruik, lek of speel. Daar is nie ’n doeltreffende behandeling nie en voortydige optrede is die enigste manier om dié siekte uit die kudde te hou. Die beste voorkomingsmaatreël is om jou ramme vroegtydig in te ent. Jong ramlammers moet voor die ouderdom van vier maande ingeënt word. Ramme moet ook getoets word voordat hulle by die ooie gesit word,” veruidelik Dr Botes.
Brucella melitensis is ‘n geslagsiekte wat meestal by bokke voorkom. Die simptome van B. melitensis sluit aborsies en verlaagde melkproduksie in. Dit is ook oordraagbaar na mense en kan Maltakoors veroorsaak. Inenting is die enigste manier om die siekte te beheer.
Vir meer inligting oor geslagsiektes, besoek AgriOrbit.